Print

Waarom strompel as jy kan sweef?

Written by Francois Carr. Posted in Afrikaans

Waarom strompel as jy kan sweef?
"…maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie." - Jes. 40:31

Christen, is jy moeg? Is jy ontmoedig? Is jy oorweldig? Gereed om die handdoek in te gooi?
Met tye voel ons moontlik so uitgeput en gespanne dat ons nie seker is of ons kan deurdruk of net die volgende tree kan gee nie. Dit is net werk, werk, werk of spanning en een krisis op die volgende soos ons onsself vir die bediening en vir mekaar gee.

Ons gee konstant ons tyd en geld en word afgemat na liggaam en siel, soms in moedeloosheid en mislukking, en tog, volgens Jesaja 40:31, kan ons altyd deur die vreugde en krag van ons Here gedra word en nooit geestelik uitgeput raak nie.
In Jesaja 40 sien ons dat Israel van ouds 'n moeilike en haas onmoontlike taak in die gesig staar. As mens jou oë oor hierdie hoofstuk laat gly, kom verskillende omstandighede waarin die mense van Israel hulle bevind, na vore:

  • omstandighede agter hulle (vers 1-11),
  • omstandighede voor hulle (vers 12-26) en
  • in hulle self (vers 27-31)

Die finansiële krisis, 'n toenemende skuldlas en hoër lewenskoste, die verlede, hede en toekoms is nie gegewes nie en die ewigveranderende omstandighede is vir baie onseker. Dit is egter wat in ons harte gebeur wanneer ons die omstandighede toelaat om besorgdheid, angs en kommer te verwek, wat ons verhouding met God en ons lewenservaring bepaal.

Instede daarvan om die Grootheid van God te besing, kla ons oor ons omstandighede en die feit dat dit lyk of God ons vergeet het. Dis of Hy nie bewus is van waardeur ons gaan of enige besorgdheid het t.o.v. ons probleme, oortrokke bankrekening en gebrek aan kontantvloei in besigheid nie. God weet hoe ons voel en hoeveel ons die dag van môre vrees en Hy is meer as gewillig en in staat om in elke behoefte te voorsien.

Ongelukkig leef ons in 'n generasie wat nie daarvan hou om te wag nie. Ons jaag deur die lewe sonder om tot stilstand te kom. Moontlik laat God ons huidige omstandighede toe ten einde ons pas te vertraag, sodat ons op Hom kan wag. Moontlik sê Hy vir ons dat ons nie hemelsingesteld genoeg is nie, dat ons nie hoog genoeg sweef nie. Ons werk hard en het goed gewerk en het selfs suksesvol gewerk, maar ons gemeenskap met God is nie so deernisvol as wat dit behoort te wees nie, so God roer die nes (d.w.s. omstandighede, krisisse of uitdagings).

Die woord 'wag' suggereer nie dat ons rondsit en niks doen nie. Dit beteken dat ons 'n verwagting moet hê, dat ons moet opkyk en ons hoop in God moet vestig vir alles wat ons nodig het (Jes. 26:3).

Die woord 'vernuwe' beteken om te verander of om te ruil; om met hernude sterkte en krag te dink en op te tree. Dis soos om ou klere uit te trek en nuwe kledingstukke aan te trek. Hoe meer ons tyd maak en wag op die Here, hoe meer ontvang ons die krag en mag om die uitdagings van die lewe te trotseer. God is meer as gewillig en in staat om te help, maar Hy wag vir ons.

Indien ons op die Here wag, maak Hy dit vir ons moontlik om te sweef wanneer daar 'n krisis is, om te hardloop wanneer die uitdagings baie is en om daagliks getrou te stap in die aktiwiteite en kwessies van die lewe. Hy sal ons help om hoër te vlieg en vinniger te hardloop.
Kind van God, ek weet nie waardeur jy op die oomblik gaan nie, maar ek weet beslis dat God jou gees wil vernuwe. Hy wil jou help om jou las te dra en jou seën met alles wat in die Here Jesus beskikbaar is (Ef. 3:20). Hoekom neem jy nie 'n oomblik en dink na oor jou lewe nie? Sweef jy met God of is hy aanhoudend besig om jou nes te roer omdat Hy vir jou wag?

Dit is my gebed dat die Here jou moed sal gee om jou probleme en uitdagings in die oë te kyk; dat Hy jou wysheid sal gee in wat jy moet doen, krag om dit te doen en die geloof om op Hom te vertrou, teen Hom aan te leun en in Hom te rus. Bedink en deurbid die volgende Skrifte:

"Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie." Ps. 55:23 (Nuwe Vertaling)

"Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid." 1 Pet. 4:7 (Nuwe Vertaling)

"Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk." Spr. 16:3 (Nuwe Vertaling)

Geliefde van God, waarom strompel as jy met Hom kan sweef?


© Francois Carr